Hoofblad | English | Artikels | Die veeartse | Skakels | Kontak ons

Teelwaardes


Dr W J Grobler BVSc


Hierdie webblad poog om die beesteler in eenvoudige terme bekend te stel aan teelwaardes (Eng: Estimated Breeding Values).  Indien u meer inligting verlang kontak die skrywer of enige van die persone aan die einde van die blad genoem hetsy telefonies of per e-pos.



Inleiding

'n Kalf erf die helfte van sy genetiese vermoë van sy pa en die ander helfte van sy ma.  Hierdie genetiese potensiaal word ook die kalf se genotipe genoem.  Die genotipe kan nie sommerso met die blote oog geëvalueer word nie.  Die fenotipe daarenteen is die uiteindelike fisieke voorkoms van die kalf nadat dit uitgegroei het.  Dit is te verstane dat identiese tweelingkalwers wat aan verskillende omstandighede onderwerp word, nie tot dieselfde mate sal ontwikkel nie m.a.w. al het hulle presies dieselfde genotipe kan hul fenotipe drasties verskil.  Dié kalf wat aan swakker voeding en hoë parasietladings onderworpe was sal verseker nie tot sy volle potensiaal ontwikkel nie.

Ten einde die invloed van omgewing tot 'n groot mate uit te skakel kan op drie maniere te werk gegaan word:

  1. Diere kan in 'n groep aan dieselfde omgewingsfaktore onderwerp word soos wat in Fase C en D toetse gedoen word.
  2. Diere wat aan mekaar verwant is word vergelyk aangesien hulle dieselfde gene deel.
  3. Die nageslag van bulle in verskillende kuddes kan met ander bulle se nageslag in daardie kuddes vergelyk word.

BLUP

BLUP is die akroniem vir "Best linear unbiased prediction".  Dit beteken dat die invloed van die omgewing tot 'n groot mate uitgeskakel is in die metodes wat gebruik word om hierdie teelwaardes te bereken.  Al die metings beskikbaar vir daardie spesifieke eienskap van alle verwante diere word gebruik om die teelwaardes te bereken.  Hoe meer waardes van 'n dier se nageslag en verwante diere in berekening gebring word, hoe meer word die invloed van omgewingsfaktore uitgeskakel en hoe meer akkuraat kan die teelwaardes gebruik word in teelprogramme.

Deesdae word gespesialiseerde rekenaarprogramme gebruik wat die verwantskappe tussen diere in berekening bring by die bepaling van teelwaardes.  Metings van diere wat naby verwant is, bv. eie kalwers (50% verwant) sal heelwat swaarder weeg as metings van halfbroers se kalwers (12,5% verwant).  Dit is te verstane dat die berekening baie ingewikkeld raak as groot getalle diere betrokke is.

Teelwaardes word uitgedruk relatief tot die gemiddelde waardes van diere in 'n sekere jaar (die basisjaar).  As die gemiddelde waarde vir speengewig in die basisjaar byvoorbeeld 245kg was en die berekende speengewig van 'n dier en al sy nasate en verwante is 263kg, dan is sy speengewig teelwaarde +18kg.  Indien hierdie bul met 'n koei geteel word met 'n speengewig teelwaarde van +10kg behoort hul nageslag gemiddeld 14kg (die helfte van 18 + 10) swaarder te weeg by speen as die diere in die basisjaar.


Verskillende teelwaardes

Die volgende teelwaardes word huidiglik gemeet:

  1. Geboortegewig — direk en maternaal
  2. Speengewig — direk en maternaal
  3. Jaaroudgewig
  4. 18-maande gewig
  5. Skouerhoogte
  6. Liggaamslengte
  7. Gemiddelde daaglikse toename
  8. Voeromsetverhouding
  9. Kleiberverhouding
  10. Skrotumomtrek
  11. Kalftempo

Stayability sal in die toekoms ook in berekening gebring word.  Dit gee 'n aanduiding van die retensie van 'n bul se dogters as teeldiere.

By geboortegewig en speengewig word 'n direkte en 'n maternale komponent gespesifiseer.  Die direkte komponent is dié deel van die eienskap wat suiwer van die dier se eie genetiese potensiaal afkomstig is, terwyl die maternale komponent daardie omgewingskomponent is wat deur die dier se moeder geskep word.  In die geval van geboortegewig behels dit die beperkende rol wat die baarmoeder op die groei van die kalf speel, sowel as die lengte van die dragtigheidsperiode.  In die geval van speengewig behels dit die versorging van die kalf deur die ma asook haar melkproduksie wat uiteraard grootliks tot die groei van die kalf tot op speen bydra.

'n Positiewe teelwaarde vir jaaroudgewig beteken dat die dier vinnig groei en dus moontlik vroeër bemark kan word.

Die 18-maande gewig gee 'n goeie aanduiding van die uiteindelike volwasse gewig.  Dit is belangrik dat gewaak moet word teen die teel van diere met 'n te swaar volwasse gewig, aangesien hierdie diere baie groter onderhoudsvereistes het.

Skouerhoogte word gemeet vanaf die bopunt van die bladbene, terwyl lengte die afstand tussen die skouerknop en die sitbene verteenwoordig.  Hierdie twee mates weerspieël die grootte van die raam van die dier en kan gebruik word om uiterstes in lengte en/of hoogte te probeer regstel.

Die gemiddelde daaglikse toename (GDT) dui die dier se gewigstoename per dag in gram aan oor 'n sekere periode en gee 'n aanduiding van die dier se groeivermoë.  'n Goeie GDT beteken dat kommersiële diere vinniger bemarkbare gewig bereik, maar mens moet versigtig wees vir uiterste waardes aangesien dit kan lei tot groter diere.

Voeromsetverhouding (VOV) dui die hoeveelheid voer aan wat die dier inneem vir elke kilogram gewig aangesit.  Hoe laer hierdie syfer, hoe minder voer benodig die dier om 'n bemarkbare massa te bereik en hoe groter is die netto wins wat uit die voer van so 'n dier gemaak word.

Die Kleiberverhouding word bereken deur die GDT deur die dier se metaboliese massa te deel.  Dit gee ook 'n goeie aanduiding van hoe ekonomies diere groei, dus is 'n hoë positiewe waarde verkieslik.

Aangesien die hoeveelheid sperme deur 'n bul geproduseer afhang van die grootte van die testes, dui 'n groter skrotumomtrek gewoonlik op 'n vrugbaarder dier.  Hierdie effek word selfs weerspieël in so 'n dier se vroulike nageslag en dus is 'n positiewe skrotumomtrek teelwaarde 'n gesogte eienskap.

Die kalftempo teelwaarde gee 'n aanduiding van die vrugbaarheid sowel as die retensie van 'n bul se vroulike nageslag.  'n Gewig word gegee aan elke dogter wat in die kudde behou word en wel as volg:

Indien die dogter uitgeskot word voor kalwing:0
Een kalf voor ses jaar oud:1
Twee kalwers voor ses jaar oud:2
Drie kalwers voor ses jaar oud:3
Vier kalwers voor ses jaar oud:4

Ten einde 'n hoë kalftempo teelwaarde te behaal moet 'n bul se dogters gereeld kalf tot op ses jaar oud.



Opsomming van teelwaardes in tabelvorm


EienskapEBVBeskrywingAlgemene seleksieriglyne
GeboortegewigGeboorte-DirekKalf se genetiese vermoë vir geboortegewig Selekteer gemiddelde Geboorte-direk en geboorte-maternaal EBV's vir kalwers wat nie te swaar is met geboorte nie
Geboorte-MaternaalMoeder se invloed op kalfie se geboortegewig
SpeengewigSpeen-DirekKalf se genetiese vermoë vir speengewig Selekteer hoë Speen-direk EBV's vir swaar speenkalwers
Speen-MaternaalMoeder se vermoë om kalf te versorg (Hoofsaaklik melk) Selekteer hoë Speen-maternale EBV's vir koeie met goeie moedereienskappe
Groei naspeenJaargewigDier se genetiese vermoë vir jaargewig Selekteer gemiddelde Jaar EBV's vir gemiddelde grootte diere
18 Maande gewigDier se genetiese vermoë vir gewig op 18 maande Vermy uiterstes vir 18 Maande EBV's
SkouerhoogteHoogte van dierSelekteer diere met gemiddelde EBV's vir Skouerhoogte
LiggaamslengteLengte van dier gemeet vanaf skouer tot sitbeenSelekteer diere met goeie lengte/hoogte verhouding
GroeidoeltreffendheidGDT (Gem. daaglikse toename)Groeivermoë Selekteer hoë GDT EBV's vir goeie groeiers
VoeromsetHoeveelheid voer verbruik per kg gewigstoename Selekteer lae voeromset EBV's vir ekonomiese groei
KleiberverhoudingMetaboliese groeidoeltreffendheidSelekteer hoë Kleiber EBV's vir metaboliese doeltreffendheid
VrugbaarheidSkrotum-omvangVrugbaarheid van bul Vermy lae skrotum EBV's vir vrugbare bulle
KalftempoVrugbaarheid/retensie van dogters Selekteer hoë Kalftempo EBV's vir winsgewende, vrugbare dogters
StayabilityLangslewendheid van dogters in maandeSelekteer hoë Stayability vir dogters wat lank in kudde bly
© Landbounavorsingsraad.  Gereproduseer met vergunning.


Praktiese toepassing

Die meeste telers dui deesdae die teelwaardes van diere wat te koop aangebied word in hul katalogusse aan.  'n Ingeligte koper kan dus met hierdie inligting en die opsomming van sy eie kudde se syfers 'n baie meer oordeelkundige keuse maak as hy 'n bul kies.  Tekortkominge in sy eie kudde kan met positiewe teelwaardes in die bul aangevul word of sekere neigings bv. rankerige diere kan aangespreek word deur 'n bul met 'n negatiewe teelwaarde vir hoogte te kies.  Sekere teelwaardes soos 'n positiewe skrotumomvang en negatiewe Voeromsetverhouding is slegs tot voordeel van enige kudde en kan die keuse tussen twee andersins identiese bulle makliker maak.  Hieronder volg verskeie werklike voorbeelde van teelwaardes:

Gemiddelde teelwaardes vir 'n Bonsmarakudde vergelyk met die Rasgemiddelde vir 2003
ReproduksieGeboorte GroeitempoDoeltreffendheidRaamtipe
KalftempoSkrotumGeboortegewigSpeengewigJaargewig18 mnde gewigGDTVoeromsetKleiberHoogteLengte
DIRMATDIRMAT
Kudde362,90,71-0,284,21,28,15,9523320213
Ras244,50,47-0,064,10,55,66,541-11201212

Hier kan duidelik gesien word dat die kudde beter as die ras gevaar het in terme van kalftempo, maternale speengewig, jaargewig, GDT en Kleiberverhouding.  Die ras se syfers vir skrotumomtrek en voeromsetverhouding is egter weer beter as dié van die kudde.



Gemiddelde teelwaardes van vier bulle wat in die kudde hier bo gebruik is
ReproduksieGeboorte GroeitempoDoeltreffendheidRaamtipe
KalftempoSkrotumGeboortegewigSpeengewigJaargewig18 mnde gewigGDTVoeromsetKleiberHoogteLengte
DIRMATDIRMAT
Bul #12614,1-1,650,771,62,36,28,57143370-424
Bul #2587,73,1-0,8821,26,535,035,6173-2089332145
Bul #34-1,20,02-0,41-3,1-1,38,2-10,30-28323-26-25
Bul #442-8,0-1,09-0,39-1,8-0,8-5,2-6,415-39521-8-10

Uit die bostaande tabel kan afgelei word dat Bul #1 se grootste pluspunt die teelwaarde vir skrotumomvang is.  Hierdie bul kan ook goed aangewend word waar moeilike kalwing voorkom, aangesien sy teelwaarde vir direkte geboortegewig negatief is.

Al die syfers van Bul #2 is uitsonderlik, maar die hoë waardes vir direkte geboortegewig, skouerhoogte en lengte kan lei tot moeilike geboortes en volwasse diere met baie groot rame.

Bul #3 se lae kalftempo is kommerwekkend.  Hierdie bul kan egter doeltreffend aangewend word om die gemiddelde grootte van 'n kudde se volwasse diere te help reduseer aangesien beide teelwaardes vir raamtipe negatief is.  Ten spyte van die lae teelwaarde vir GDT is die bul se waardes vir direkte speengewig en jaaroudgewig goed, wat daarop dui dat sy nageslag vroegryp diere sal wees.

Bul #4 se enigste positiewe waardes is die kalftempo en voeromsetverhouding.  Die feit dat die bul se skrotumomvang so 'n sterk negatiewe waarde het is seker die negatiefste aspek rondom sy syfers.


Indien u meer te wete wil kom oor teelwaardes en die praktiese toepassing daarvan, kontak gerus een van die dames van die Landbounavorsingsraad te Irene. (Telefoonnommers en e-posadresse verskyn hieronder)

Bron: Inligtingstuk oor basiese BLUP-inligting uitgegee deur die Landbounavorsingsraad.

Kontaknommers:
Tina Rust012-672 9062
Annette Exley012-672 9134    annette@irene.agric.za
Zelda Liebenberg012-672 9023    zelda@irene.agric.za

Indien u meer inligting verlang, kontak gerus u naaste grootdierveearts.