
Hondesiekte
Dr W J Grobler BVSc
INLEIDING
Gedurende 2001 tot 2003 het veeartse weer in toenemende mate met 'n geslepe vyand te doen gehad. Hondesiekte het die voorafgaande twintig jaar slegs in uitsonderlike gevalle voorgekom, maar 'n groot aantal honde het in dié twee jaar dié aaklige siekte opgedoen. 'n Virus na verwant aan die maselsvirus van mense is verantwoordelik vir hondesiekte en in die meeste aangetaste diere is kanse op herstel nie baie goed nie. Hoewel die virus baie vatbaar is vir ontsmettingsmiddels, sonlig en uitdroging, is dit baie aansteeklik en skei 'n siek hond geweldige groot hoeveelhede virus uit in die liggaamsuitskeidings.
SIMPTOME
Die simptome kan baie varieer en sluit die volgende in:
- Hoë koors
- Verlies aan eetlus
- Geelgroen oog- en neusuitloopsel
- Hoes
- Oog- en mondslymvlies baie rooi
- Spiertrillings, veral van die spiere bo-op die kop
- Braking en diarree
- Verharding van die pootkussings en neus
- Swak agterlyf en swaaigang
- Stuiptrekkings
DIAGNOSE
Die diagnose van hondesiekte is meesal nie 'n maklike taak nie. Verdagte simptome in enige ongeënte dier maak hondesiekte 'n moontlikheid. Die siekte kan baie maklik met bosluisbytkoors, hondehokhoes (kennel cough), katgriep, vergiftiging en ander oorsake van longontsteking verwar word. Soms kan inklusieliggaampies in rooibloedselle of in ander liggaamselle gesien word (sien foto). Hierdie inklusieliggaampies is reste wat die virus in die selle agterlaat waarin dit verdeel het. Bloedtoetse kan gedoen word om die teenwoordigheid van die virus te bevestig en om te bepaal of die hond wel teenliggaampies teen die virus het. Die heel nuutste toets toon inklusieliggaampies in 'n klein stukkie vel met hare.
BEHANDELING
Op hierdie stadium bestaan daar nie goedkoop, veilige middels om virusse in die liggaam dood te maak nie. Behandeling van hondesiekte berus dus daarby om die hond se eetlus te probeer stimuleer, spierspasmes te beheer en sekondêre bakteriese infeksies van veral die longe te beveg met antibiotika. Bykans 80% van jong hondjies en 50% van volwasse honde herstel nie en in die meeste van dié gevalle is genadedood die enigste uitweg. Die siekte kan 'n paar weke duur voordat beterskap intree of ernstige stuiptrekkings 'n aanvang neem dus is die behandeling gewoonlik uitgerek. 'n Hoë vlak van voeding is uiters belangrik gedurende die verloop van die herstelproses.
VOORKOMING
Hier is uiteindelik 'n brokkie goeie nuus — dit is baie maklik om hondesiekte te voorkom. 'n Teef wat immuun is teen hondesiekte dra groot hoeveelhede teenliggaampies oor aan haar werpsel. Hierdie teenliggaampies is egter uitgeput teen agt tot sestien weke en gedurende hierdie tyd moet die klein hondjies ingeënt word. In die meeste gevalle word hondjies op ses tot agt weke en dan elke drie tot vier weke daarna tot ongeveer sestien weke oud ingeënt. 'n Jaarlikse skraagdosis (booster) sal die hond se immuniteit hoog hou. Hondjies wat siek is of baie wurms het, behoort glad nie ingeënt te word nie aangesien hulle nie na wense op die inenting sal reageer nie en dit dus gemors word.
OPSOMMING
'n Dodelike, baie aansteeklike en baie onaangename siekte kan baie maklik voorkom word deur alle klein hondjies ten minste drie maal te laat inent. Hoe minder vatbare honde daar is, hoe minder skade sal die siekte aanrig. Is daar 'n beter rede om al u honde te laat inent? Kontak gerus vandag nog u naaste veearts vir meer inligting.
Erkenning vir foto: www.purdue.edu